Wat die hart van vol is, loop die glas van oor

The Wine Samarie

Written by MarriedTwoWine

July 20, 2021
My hart is vol soos ons by die plaas weg ry.
“Moenie terug kyk nie,” het Ouma altyd met plaaskuiers herinner. Kyk vorentoe en vertrou die liewe Here sal jou spaar vir nóg ‘n kuiertjie duskant die nuwe jaar.”
Dis makliker gesê as gedaan want jy moet letterlik aan jou boesem vasgryp sodat dit nie voel asof die pad wat voorlê jou van al die mooi in jou hart wil beroof nie. Want sjoe, ons het die laaste paar dae vol stories getap in ‘n plek waar witwyn en winter die son laat skyn met KWV Chenin Blanc en Sauvignon Blanc uit die wynstalle van Benguela Cove, Van Loveren, Spier en Elgin Vintners.

Vanoggend het die ryp ons kar in ‘n wit kombers toegevou, asof die plaas gevra het dat ons langer moet bly. Die haan het duskant 05:00 die son begin roep toe ons die bagasie laai. ‘n Mens vergeet die magiese effek wat die Karoo op jou het as jy lanklaas daar was. Die ongenaakbaarheid van hierdie plek gryp aan jou binneste en daar is ‘n soort stilte in alles verweef – van die donker nag tot ‘n stil gebore lam. Tog bly die Karoo die lappieskombers van my hart, en ware vryheid die goue draad waarmee hierdie rou werklikheid volbring word.

Nés die grondpad in teer verander en die son se eerste flertse goue lig deur die kurwes van die berge breek, maak die sluise van my hart oop. Trane stort warm oor my koue wange en Georgio se hand troos op my knie. Die bossies langs die pad lyk soos gespinde suiker onder die moregloed en herinner my aan die soete ervaing saam met Floris en Ben by die Zandrivier plaas.

Die dag in die Seweweekspoort was verseker ‘n hoogtepunt en die berg se skoonheid word gekoester in die manier waarop dit sy eie palet van blou, grys, oker en olyfgroen in breë stroke aanwend om jare se geologiese aktiwiteit sigbaar te maak.

Die poort het ons dadelik ingesluk en op reis geneem deur sy hange. Iemand soos Floris ken elke draai en het spesiaal gestop waar hy weet ons in die grootheid daarvan gedoop kon word. Dis magies om die Karoo so nat te beleef. Dit is asof nóg meer dimensies daarvan oopgesluit word wanneer reëndruppels ligvoets van die plante af spring en die rotswande met nóg meer intensiteit skitter.

Ons het gestop waar die poort die rivier in sy skoot ontvang en al die energie in ‘n stil dog oorverdowende gekabbel binne in jou bymekaar kom. “Dit maak gesond”, het Floris gesê. “Hierdie plek verban enige wêreldsgoed wat jou moeg maak.”

Die skoonheid van die Karoo word ook gekoester in die manier waarop mens en dier verweefd saamleef. Die koei gee haar melk en jy maak die botter. Sanna knie die brood en Ben kook konfyt vir iets soets wanneer ons vanaand die lamstjoppie in eerbied vir die dier kan eet.

Die Zandrivier gasteplaas is ‘n spesiale plek, die derde hoogste plaas in die Weskaap. Skaars vier uur buite Kaapstad, is jy genestel in die hart van die Karoo tussen die N1 (Laingsburg) en die R62 (Ladismith). Ons het in die pragtige Bergzight kothuis gebly waar die hout elke dag hoog opgestapel was en die sagte geblêr in die verte ons aan die slaap gesus het.
Wanneer ‘n mens vroegaand in ‘n sirkel van honde gaan stap, met een gemmerkat agterná, borrel ‘n geborgenheid in jou op wat jy weet net in die plaaswêreld beskore is. En dan kom die eienaar en boer Ben Jewaskiewitz verby met vars brood en plaasmelk – enkele redes waarom gaste jaarliks terugkeer om deur die Karoo geseën te word.

En dan is daar Floris, ‘n talentvolle kunstenaar kom ruiter wat soggens skaars kan wag om by sy perde uit te kom. Dis ‘n pragtige ritueel om te sien hoe hierdie goudbruin lywe ongeduldig wag dat Floris hulle by die stalle uitlei en die honde die sirkel groter maak vir die perde om die pad aan te wys. Nés die toue val, skiet hulle die veld in en maak dit sommer vol.

Terug by die plaashuis, kondig die ganse die geboorte van nuwe lammers met ‘n luide getrompetter aan. Nuwe lewe staan nog onseker op knopperige beentjies onder hul mammas; ander ooie is ryp met swangerskap. Daar is amper geen einde aan die lae van hierdie plek wat soos ‘n ui afgeskil word nie. Dis ‘n tipe werklilheid wat homself elke dag herhaal sonder dat dit ooit dieselfde is. Floris se skilderye getuig dit met ‘n pragtige voshaarvrou wat ‘n ewe rooi jakkals vashou, en met ‘n kind van die veld wat horings soos ‘n kroon dra. Ek kan verstaan dat die Karoo sy muse is, ook vir Ben die boer wie se kreatiwiteit gestalte kry in beeldhouwerke uit hout en lewensgrootte klippe
Wat, regop staangemaak, gaste soos ‘n erewag verwelkom.

En wanneer die son weer ook Zandrivier sak en elke hond op sy eie plekkie voor die vuurherd gedrapeer is, skink Floris sy gunsteling witwyn. ‘n Baba gemmerkat vat-vat aan Ben se plaashande soos hy die beet afskil en die egtheid van hul bestaan daarmeesaam in ‘n groot skottel geweek word. Dit kan nie maklik wees nie, maar tog is die belonging groot om tussen berg en dier te kan leef. Hierdie laaste aand, met sneeu wat net-net dreig, het volrooi wyne, Bizoe Malbec en Arendsig Cabernet Sauvignon, die laaste sê gehad vir daardie ekstra buffer teen die winterkou.

More from The Wine Samarie